27/08/2026
Ons laaste dag & aand van die BLOMMETOER
En so het ons laaste dag en aand aangebreek. Die sakke is gepak, die karavane is reg, alles is min of meer op hul plek en môre-oggend begin die pad huiswaarts.
Wat ’n ongelooflike 10 dae was hierdie BLOMMETOER KAMP BUDDIES WES-KAAP TM 18 - 28 Augustus 2026. Tien dae van lag, kuier, ontdek, lekker eet, stories vertel, nuwe herinneringe maak en sommer net die lewe saam geniet.
Vanaand het ons afgesluit met ’n heerlike biltong-pastapot, vergesel van twee varsgebakte brode. Oeee, dit was ’n fees!! Daar is min dinge lekkerder as om na ’n lang dag saam om die kampvure te sit, die kos te geniet en sommer net dankbaar te wees vir die mense rondom jou. En dit is juis dié mense wat hierdie toer so besonders gemaak het.
Wat begin het as ’n groep kampvriende, het oor hierdie tien dae iets soveel groter geword. Fantastiese vriende wat soos familie geword het. Ons het saam gelag, saam geëet, saam gekuier, mekaar gehelp en sommer op ’n manier nader aan mekaar gegroei wat mens nie altyd kan verduidelik nie.
En die blomme???
Ons het beslis nie hierdie jaar soveel blomme gesien soos in vorige jare nie, maar daar was steeds genoeg om ons harte bly te maak, want soms hoef daar nie ’n veld vol blomme te wees om die mooi raak te sien nie. ’n Paar veldblomme hier, ’n kleurkolletjie daar, die landskap, die ooptes en die wonderlike natuur herinner ’n mens weer hoe bevoorreg ons is om Suid-Afrika te kan ontdek.
Ons het ook besienswaardighede besoek, nuwe plekke ontdek en natuurlik heerlik geëet!! ’n Groot dankie aan al die restaurateurs wat ons ontvang het met oop arms, vriendelike glimlagte en heerlike kos. Julle gasvryheid het elke besoek spesiaal gemaak. Dankie vir die ekstra moeite. Ons waardeer dit.
En dan is daar Johan van DIE BLOU HUIS at 245 - Nieuwoudtville waar Kamp Buddies hierdie toer se tuiste gehad het. Wat ’n besonderse kampbasis. Johan, baie dankie vir jou gasvryheid, jou vriendelikheid en al die moeite wat jy gedoen het om ons welkom te laat voel al was dag een so bietjie 'rof' met die aankoms.
Daar was baie lag, baie stories, baie koffie, baie kuier en natuurlik ’n paar onvergeetlike oomblikke. Hierdie is die tipe herinneringe wat ’n mens nie sommer in ’n foto-album kan vasvang nie. Dit bly iewers diep in jou hart, want uiteindelik gaan ’n kamp nie net oor die plek waar jy jou karavaan parkeer nie. Dit gaan oor die mense rondom die kampvuur, die hande wat help, die stories wat gedeel word, die lag wat oor die kamp versprei en die vriendskappe wat onderweg gevorm word.
Môre gaan ons elkeen ons eie koers huiswaarts vat. Die karavane gaan een vir een vertrek, die kampterrein gaan stiller word en die BLOMMETOER van 2026 sal verby wees, maar ons neem iets saam wat nie in ’n karavaan of kattebak gepak kan word nie....
Herinneringe, Vriendskap, Dankbaarheid en ’n klomp nuwe stories wat nog vir jare vertel gaan word.
Aan elkeen wat deel was van hierdie ongelooflike 10 dae. BAIE, BAIE DANKIE❣️❣️
Dankie vir julle lag, julle omgee, julle hulp, vir die spontane oomblikke en vir die saamkuier.
Dankie dat julle van ’n kamp ’n tuiste gemaak het. Mag ons môre veilig huiswaarts reis, en mag ons elkeen met ’n vol hart terugkyk na die BLOMMETOER KAMP BUDDIES WES-KAAP TM 18–28 AUGUSTUS 2026 en sê:
“Sjoe….. dit was een vir die boeke!”
Tot ons weer saam kamp….. kampvriende vandag, familie vir altyd. ❤️🌸🔥🏕🌻🌼💐
Kamp Buddies Wes Kaap TM
KAMP BUDDIES WES-KAAP