12/05/2026
. . . die son slaan vuur uit die sweetvoshare . . . Boerneef (11 Mei 1897 - 2 Julie 1967)
Louis van Rensburg (31 Julie 1944 – 9 September 2012) se samestelling uit drie van Boerneef se gedigte, is steeds ’n groot treffer, sedert die televisiereeks “Ballade vir ’n enkeling”:
Bantam hom so en flennie die snare
Ek is verlief op die kind
Die son slaan vuur uit die sweetvoshare
Ek is verlief op die kind
Hoor jy meisie met die sweetvoshare
verstaan jy die praat van die ramkie snare
Ek is verlief op jou kind
Lappa lei vir Bella koud, in Waboomskloof se geelbossies
Lappa maak vir Bella stout,
Met Hanepoot se natrossies
Donkerrooi die wingerdblaar en warmrooi die mond van haar
My hart blom wit vir die voshaarnooi
Pluk heide van die rooiste rooi
Vir hierdie einste voshaarnooi
Bellabint my meisiekind, dis hartblom wit, dis heiderooi
Bellabint my meisiekind, dis hartblom wit, dis heiderooi
Vir jou my voshaar meisiekind
Luister gerus na Louis van Rensburg:
https://www.youtube.com/watch?v=U6PUNYbhrWE
----
Boerneef gebruik sy skywersnaam vir die eerste keer in 1925 as teken van verset wanneer hy in “Die Burger” spot met sy Afrikaanse landgenote wat so op loop gaan met die Prins van Wallis se besoek aan Suid-Afrika.*
Woordeboekmaker en belangrike skrywer, prof. Izak Wilhelmus van der Merwe (Universiteit van Kaapstad), word bekroon met die Hofmeyrprys vir sy prosa in 1956. Die Hertzogprys vir poësie word postuum aan hom toegeken in 1968.
As verstedelikte plattelander, vind sy verlange na sy geboortegrond op Boplaas, Ceres, neerslag in sy werk. Boerneef was hartstogtelik verknog aan sy kontrei: Die Kro, die Kamdebo, Koorsteenberg en Katbakkies, Sikketaarskloof, Soebatsfontein en Speserykloof.
Dit is die ryk beeldspraak in beide Boerneef se prosa en poësie wat ’n mens opval en bybly, die toorgoed waarmee hy die hele geur en atmosfeer van die Bokkeveld of later die Kaap, vir ons herskep en die tyd en plek laat herleef . . . Dit kom alles so natuurlik dat jy die indruk kry, dit moet maar so wees, dis die spontaanste manier van beskryf.
Berig: A. Diedericks
Kontak die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN): [email protected]
Grafika: My City Bloemfontein